Toeriste kan dalk Venesië sink
2011-07-05 14:27
‘n Italiaanse omgewingsgroep het Maandag gewaarsku dat massa-toerisme die Venesiese strandmeer stadig laat agteruitgaan terwyl dit ook deur eiendomsontwikkeling en ‘n onvoldoende vervoernetwerk bedreig word.
Volgens die argitek Cristiano Gasparetto het ‘n studie wat in 1988 gedoen is, aangedui dat die aanvaarbare maksimum hoeveelheid daaglikse toeriste vir Venesië 33 000 is. Die gemiddelde syfer is op die oomblik 59 000.
Alessandra Mottola Molfino, hoof van die Italia Nostra nie-regeringsorganisasie, meen die syfer “is te hoog vir so ‘n brose stad”.
Watervervoer in die stad het toegeneem as gevolg van die toename van mense en die gevolg is dat die ekosisteem van die strandmeer geleidelik vernietig word, het kenners in die groep gesê.
Die strandmeer het ‘n mengsel van see- en varswater en ‘n relatiewe vlak bodem, wat ‘n tuiste is vir plante wat die water van suurstof voorsien.
Skepe se skroewe, wat toenemend vinniger beweeg, stoot die slik onder die water op, wat weer deur die getye ingetrek word. Dit lei daartoe dat dit al minder ‘n strandmeer is en al hoe meer ‘n baai word.
Die strandmeer is ‘n inloop na die Adriatiese See, met toegang na die see wat beperk word deur ‘n reeks sandbanke by die strandmeer se ingang.
Baie vars water het ook in die strandmeer ingevloei, maar oor die laaste paar eeue het meeste van die varswater in die Adriatiese See ingeloop.
Die water in die strandmeer het nou slikvlakke wat byna so hoog is as in die Adriatiese See.
Italia Nostra het voorgestel dat die hoeveelheid toergroepe verminder word, alhoewel die groep besef dat so ‘n stap “tydelik sal lei tot ‘n afname in handelsvolumes”.
Die organisasie het ook eiendom-spekulasie veroordeel, insluitende planne deur Venesiese amptenare om ‘n nabygeleë stad, Tessera-stad, te bou.
Dié stad sal kantore, ‘n kasino, pakhuise en ‘n hoë-spoed treindiens hê.
Venesië word regtig bedreig. Ons moet ‘n balans vind tussen onmiddellike behoeftes en die toekoms om volhoubare ontwikkeling te verseker,” het Mottola Molfino gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP