Toeriste in N-Kaap só verwelkom
2011-12-21 09:00
Kimberley. – Noord-Kaapse toerisme verwelkom weer toeriste vanjaar by vulstasies in die stad en drie dorpe langs die N12-roete deur die provinsie.
Studente deel namens Noord-Kaap toerisme lekkers, koeldrank en padkaarte aan toeriste uit. Hulle doen ook ’n opname om tevredenheid met gasvryheidsondernemings te meet. Toeriste staan ook ’n kans om ’n vakansie van vyf dae in die Noord-Kaap te wen.
Volgens Sharron Lewis, uitvoerende hoof van Noord-Kaap Toerisme, het die veldtog verlede week begin en dit eindig Vrydag.
“Ons spanne is by vulstasies op Warrenton, Kimberley, Britstown en Victoria-Wes. Hulle deel ook geskenkbewyse uit.”
Lede van die veldtog Kom Veilig Daar ondersteun Noord-Kaap Toerisme om motoriste te maan om versigtig te bestuur.
“Die N12 is een van ons besigste roetes. Ons het ook werkers by die Groot Gat en die lughawe wat met toeriste gesels.
“Ons wil graag hul behoeftes bepaal. Dit is ’n geleentheid om ander bestemmings in die Noord-Kaap te bemark.
“Daar is baie opwindende vakansiebestemmings in die Noord-Kaap. Toeriste moet stadig deur ons provinsie ry om sy natuurwonders te ontdek.
“Die inligting wat ons versamel, help om ’n profiel te skep van toeriste. Ondernemings in die gasvryheidsbedryf kan dit gebruik om nuwe geleenthede te benut,” sê Lewis.
Vir meer inligting, besoek die webwerf www.experiencenortherncape.com.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad