Toeris val na sy dood in Praag
2011-11-29 12:57
Kaapstad – ‘n Italiaanse toeris is dood nadat hy by die reling van ‘n gewilde brug in Praag afgeval het toe hy probeer het om ‘n foto van homself by ‘n standbeeld te neem, het die polisie gesê.
“Die man het waarskynlik probeer om ‘n foto van homself saam met ‘n standbeeld te neem op die Charles-brug,” het Praag se polisiewoordvoerder Tomas Hulan aan AFP gesê.
“Hy het ongelukkig so ver teruggeleun dat hy sy balans verloor en op ‘n straat ‘n paar meter ondertoe beland het,” het hy gesê.
Die 45-jarige man is op die toneel dood, het hy bygevoeg.
Charles-brug is sedert die 1970’s vir verkeer gesluit en is aan beide kante versier met standbeelde uit die Barok-tydperk.
Besoekers kan van hier ‘n besonderse uitsig oor Praag geniet en dit lok jaarliks miljoene besoekers.
Die eerste stene is in 1357 deur keiser Charles IV gelê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP