Toerbus slaan om, 4 ernstig beseer
2011-08-04 15:33
Whitney Point, New York – Verskeie mense is beseer toe ‘n toerbus, met meer as 30 passasiers, Woensdagaand op ‘n snelweg buite New York omgeslaan en onderstebo in ‘n sloot beland het.
Vier mense is ernstig beseer en 36 ander het ligte beserings opgedoen. Een vrou was onder die bus vasgekeer, het ‘n woordvoerder van die Broome balju-kantoor gesê.
Die ongeluk, die jongste in ‘n reeks busongelukke in die noord-ooste van die land dié jaar, het op die Interstate 81-hoofweg naby Whitney Point plaasgevind.
Nooddienswerkers het geswoeg om ‘n vrou wat onder die bus vasgekeer was te bevry, het Nicholas Sculley, hoof van die Whitney Point brandweerdepartement, gesê.
Die vrou, wat by haar bewussyn was, was gedeeltelik deur die bus se dak-nooduitgang geslinger toe dit oopgegaan het.
Sy het op haar rug gelê met haar kop onder die bus in ‘n gaping tussen die grond en die bus.
Sy is gered en daar was slegs ‘n paar snye sigbaar op haar gesig, het Sculley gesê.
Die bus het glo van die Niagara-waterval gekom en was op pad na Trenton in New Jersey, het polisie-sersant Todd Burdick aan die Binghamton Press & Sun-Bulletin gesê.
Volgens Burdick was spoed en slegte weersomstandighede die oorsaak van die ongeluk.
“Ten tyde van die ongeluk was daar ‘n groot storm,” het hy gesê.
Passasiers is by die Lourdes-hospitaal in Binghamton opgeneem vir x-strale en toetse.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP