Tiere spring op toeristebus in wildpark
2012-02-08 14:34
China – 'n Groep toeriste wat 'n wildpark in die ooste van China besoek het, het 'n noue ontkoming gehad toe Bengaalse tiere hul toerbus aangeval het.
Die tiere het die bus se bande en die windskerm beskadig, het staatsmedia berig.
Een van die werkers, wat die Jinan Wildlife World in die Shandong-provinsie bestuur, was op middagete toe die voorval verlede Saterdag plaasvind.
Dit het beamptes tien minute geneem om 'n hek oop te maak sodat die toeriste kon ontsnap.
Nie een van die 27 toeriste op die bus het beserings opgedoen nie. Slegs die bestuurder se hand is beseer nadat een van die tiere op die bus gespring en die windskerm beskadig het.
Die toeriste het onder hul sitplekke weggekruip toe die agt tiere die bus se bande stukkend gebyt het, het die Global Times berig.
Pogings om die polisie te kontak het misluk omdat daar geen sein was nie.
Wu Yanfei, adjunk-bestuurder van Jinan Wildlife World, het gesê hy is baie jammer oor die voorval.
Die park is tans besig met 'n ondersoek en het die toeriste vergoed.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP