Terug in die land van melk en misdaad
2010-08-04 02:32
Kaapstad – Ons het ná meer as drie maande Suid-Afrika deur Swaziland se Golela-grenspos binnegekom. Dit was lekker om weer in ons eie land te wees.
Sommer met die intrapslag het ons met die berge by uBombo kennis gemaak en aan die einde van ons eerste dag terug in Suid-Afrika was ons behoorlik uitgeput nadat ons tot by dié dorpie hoog in die berge gery het.
Daarvandaan is ons na Sodwana met sy kampeerterrein diep in die bosse met volop diere soos rooiduikertjies, gebande muishonde en samango-ape wat die terrein met kampeerders deel. Ná Sodwana het ons koers gekies na Hluhluwe en die aand in ’n kampterrein net buite die Hluhluwe-wildreservaat gekamp.
Die aand kruip diewe saggies in ons tente in terwyl ons slaap en ons verloor onder meer klere en toerusting – en ook ’n groot deel van ons geesdrif om terug te wees in die land van melk en misdaad. Ons het daarin geslaag om weer die nodigste toerusting in die hande te kry en is van daar af met die Noordkus van KwaZulu-Natal tot by Durban en daarvandaan met die Suidkus van KwaZulu-Natal langs totdat ons die Oos-Kaap binnegegaan het.
Dinge in die ou Transkei het min verander. Die kontras tussen KwaZulu-Natal en dié deel van die Oos-Kaap is opmerklik. Sodra jy die provinsiale grens oorsteek, is jy skielik in ’n ander wêreld. Berge en nogmaals berge begroet jou en dit is harde werk vir ’n fietsryer. Tussen die berge lê klein nedersettings verspreid, die klein huisies met hul helder kleure staan plek-plek teen ’n berghang.
Die mense is vriendelik, maar tog versigtig en baie meer wantrouig teenoor ons as die mense in die ander lande waar ons was. Net voor Bizana staan ’n groot vrou langs die pad en vra waarheen ons op pad is. Ek verduidelik aan haar waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Sy vou haar arms en kyk my dan stip in die oë. “Jy lieg,” is al wat sy vir my sê en is nie lus om verder met my te gesels nie.
Ons het ’n paar dae lank deur dié deel van ons land gery en weer die kus bereik by Port St. John’s met sy skilderagtige omgewing, die dorpie grootliks ongerep en nog nie betrek deur eiendomsontwikkelaars en alles wat daarmee gepaard gaan nie. Toe ons die oggend daar wegry en weer teen die berge uitsukkel, is daar ’n paar jong Pondo-seuntjies langs die pad.
Die manne sien ons sukkel maar stadig teen die berge op en bied aan om ons te stoot. Met hul maer beentjies en kaal voete “help” hulle ons teen die berg op. Ons beloon elke man met ’n geldjie vir sy harde werk, en die manne is heel in hul noppies. Toe ons weer sien, het ons elkeen ’n ekstra passasier op ons fietse bygekry!
Ons is van daar af na Mhtatha. Intussen het ’n koue front inbeweeg en die volgende dag was dit veels te koud om fiets te ry. Die tyd is benut met ’n verkenning van die voormalige hoofstad van die Transkei. Daar is in ’n minibustaxi gespring vir ’n besoek aan die Nelson Mandela-museum.
Die toegang was gratis en die uitstallings uitstekend – werklik ’n aangename verrassing. ’n Paar dae later het ons die Groot Kei oorgesteek en was ons klaar met die ou Transkei – dit was in baie opsigte een van die moeilikste streke van ons hele toer. Berge, koue en reën maak dit nie maklik vir ’n man op ’n fiets nie.
Ons is verder deur die Oos-Kaap en het onder meer Kidd’s Beach, die pragtige dorpie net ’n klein entjie suid van Oos-Londen, aangedoen. Ná nog ’n paar dae se trap op die pragtige paaie van die Oos-Kaap het ons by die ikoniese Bloukransbrug gekom en gekyk hoe ’n paar waaghalse die hoogste reksprong ter wêreld aandurf.
Ons is daarna oor die brug en so ook uit die Oos-Kaap – beslis een van die mooiste provinsies in ons land, maar beslis nie ’n katjie om sonder handskoene te pak as jy in die winter op jou fiets daardeur wil ry nie