Tafelberg skyn rooi vir Wêreldvigsdag
2011-11-30 11:15
Kaapstad – Tafelberg sal Donderdag met rooi ligte verlig word om Wêreldvigsdag op 1 Desember te gedenk.
Die rooi ligte sal tussen 19:00 en 23:00 op die berg geskyn, het die Stad Kaapstad gesê.
“Die stad neem deel aan ‘n internasionale veldtog wat daarop gemik is om die wêreld rooi te maak,” het die stad gesê.
“Dié rooi-veldtog werk saam met internasionale handelsmerke om unieke rooi-gemerkte produkte te maak, met tot 50% van die winste wat geskenk sal word aan die Wêreldfonds vir die stryd teen vigs.
“Die stad Kaapstad ontvang ook 'n toelaag van die Wêreldfonds en gee tans befondsing aan MIV/TB-projekte vir meer as 80 nie-regeringsorganisasies.”
Die stad het gesê hy het sy jaarlikse mikpunt vir MIV-toetse van mense ouer as 15 jaar in 2010/2011 met meer as 4% oorskry.
Daar is 558 623 toetse gedoen op burgers oor die ouderdom van 15, in vergelyking met 324 326 toetse in 2009/2010.
Die stad se burgemeesterkomiteelid vir gesondheid, Lungiswa James, het Kapenaars aangemoedig om in die aanloop tot Wêreldvigsdag getoets te word.
“Die hooffokus van hierdie uitreik-geleenthede sal wees om bewustheid te kweek rondom MIV en ook tuberkulose, wat ‘n groot oorsaak is van sterftes vir die wat met MIV besmet is,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA