Tafelberg-aanvalle daal skerp
2012-10-02 11:43
Kaapstad – Aanvalle op Tafelberg en die omliggende gebiede het met minstens die helfte gedaal, in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, het die Cape Times Dinsdag berig.
Op Tafelberg is daar "feitelik" in 'n jaar geen misdade aangemeld nie.
Die syfers is verskaf deur die Table Mountain Safety Action Group (TMSAG)
Sanparke het aan die koerant gesê misdade het met tweederdes afgeneem, maar wou nie die presiese getalle bekendmaak nie.
Die TMSAG is ná verskeie aanvalle by Leeukop, Rhodes Memorial, Seinheuwel, Sandy Bay, in die Nuweland-woud en Noordhoek-strand aangemeld is.
André van Schalkwyk van die TMSAG het gesê hy het daaraan gedink om die groep te ontbind omdat dit sy doelwit bereik het. Hy het die afname in misdaad toegeskryf aan 'n toenemende teenwoordigheid van veldwagters op die berg.
Wanika Rusthoi, woordvoerder van Sanparke, het aan die koerant gesê 'n veiligheidspan het regdeur die winter wegsteekplekke leeggemaak en die vingerafdrukke van leeglêers geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter