Swart seun 'nie welkom' by vakansie-oord
2012-01-12 14:45
Kaapstad – ‘n Oord in die Oos-Kaap word ondersoek nadat daar gesê is ‘n swart kind is nie welkom daar nie, het die Oos-Kaapse Parke- en Toerisme Agentskap (OKPTA) Donderdag gesê.
Die 11-jarige seun sou op 7 Januarie saam met ‘n 12-jarige wit vriend en sy gesin na die Lapel Le-oord in Cintsa gaan.
“Die wit seun se ma... het gesê dat, ten spyte daarvan dat sy betaal het vir ‘n ses-dag vakansie vir twee volwassenes, haar seun en sy vriend, is sy vooraf telefonies ingelig dat haar seun se vriend nie op die eiendom toegelaat sal word nie,” het OKPTA -woordvoerder, Veliswa Mhlapo, gesê.
“Daar is glo aan die ma gesê slegs swart mense wat op die gronde werk sal toegelaat word en dat die swart kind nie saam met die familie daar kan vakansie hou nie,” het sy gesê.
Mhlapo het gesê dat die uitvoerende hoof van OKPTA, Sybert Liebenberg, ‘n span saamgestel het om die oord te ondersoek.
‘n Aparte voorval is vroeër in Januarie by ‘n oord in Port Elizabeth aangemeld.
“Ons het op die oomblik nie besonderhede rakende daardie voorval nie, maar ons sal volgende week meer weet,” het Mhlapo gesê.
‘n Verslag oor die voorvalle sal op 25 Januarie bekendgemaak word.
“Deur hierdie ondersoek sal ons kan vasstel of hierdie wel toerisme-fasiliteite is wat by die OKPTA geregistreer is as toerisme-produkte. Dan sal ons die grondwet en ons mandaat gebruik om die voorvalle te hanteer,” het sy gesê.
Liebenberg het gesê die OKPTA sal seker maak dat soortgelyke voorvalle nie weer plaasvind nie.
“Ons sal nie rassisme in enige vorm verdra nie. Ons kan nie hierdie negatiewe effek op die Oos-Kaap se toerisme toelaat nie,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA