Strandveiligheid: 'n Paar wenke
2010-12-28 08:41
Kaapstad – Strandveiligheid is die laaste ding waaraan talle vakansiegangers wil dink tydens hul besoek aan enige van Suid-Afrika se pragtige strande tydens die feesseisoen.
‘n Ongeluk gebeur egter so maklik, so dit is die moeite werd om ‘n paar riglyne in gedagte te hou.
Die Stad Kaapstad het onlangs hul Somergereedheidsplan bekendgestel, wat fokus op veiligheid by swembaddens en op strande, berig IOL.
Deel hiervan is die 250 lewensredders wat op verskeie Kaapse strande tussen 10:00 en 18:00 aan diens is.
Neem egter kennis van die volgende veiligheidsmaatreëls wanneer jy op die strand is:
- Alkohol word glad nie op strande toegelaat nie en enigiemand wat dié reël oortree, sal in hegtenis geneem word.
- Let op na die verskillende kleure vlae wat aandui of daar ‘n haai-gevaar is of nie. ‘n Swart vlag beteken dat daar iemand aan diens is om uit te kyk vir haaie, maar dat sigbaarheid swak is. ‘n Wit vlag met ‘n tekening van ‘n haai daarop, beteken dat daar ‘n haai in die area gesien is; ‘n sirene sal aandui dat swemmers liefs die water moet verlaat, tot die haai weer weg is.
- Swem in groepe en laat jou vriende weet waar jy van plan is om te gaan baai.
- Maak seker dat ander mense jou kan sien.
- Moenie naby robbe, dolfyne of walvisse, of naby waar ‘n karkas uitgespoel het, swem nie.
- Ouers moet te alle tye bedag wees op hul kinders te doen en late.
Indien jy deur ‘n stroom meegesleur word, doen die volgende:
- Bly kalm en probeer dryf deur met jou bene te skop en sirkelbewegings met jou arms te maak.
- Moenie teen die stroom probeer swem nie.
- Waai en skree om hulp.
- Die stroom sal sterkte verloor hoe verder jy dryf. Sodra jy kan, swem parallel met die strand en gebruik die golwe om terug te swem land toe.
Sit die volgende nommers op jou selfoon:
- Mediese nooddienste: 10177
- Alle nooddienste vanaf ‘n selfoon: 112
- Alle nooddienste vanaf ‘n landlyn: 107
Kliek hier vir die volledige storie.
Volg Nuus24 op Twitter.