Stormsterk winde teister Skotland
2011-12-08 15:12
Glasgow – Skole in Skotland is gesluit en reisigers is gewaarsku om Donderdag vertragings op sleutelroetes te verwag as gevolg van stormsterk winde, met Brittanje se eerste groot winterstorm van die jaar wat sy verskyning gemaak het.
Skole in die weste, sentrale en suide van Skotland is gesluit nadat weervoorspellers ‘n “rooi waarskuwing” uitgereik het vir winde van tot 160 km/h.
Die polisie waarsku dat die sterk winde toestande op die paaie baie gevaarlik kan maak en beveel aan dat mense vermy om op die paaie te ry.
“Motoriste kan hulself in ernstige gevaar plaas as hulle op die paaie ry, só erg is die toestande wat voorspel word,” het konst. Allan Moffatt van die Skotse polisie gesê.
Die storm het teen vroeg Woensdag die weste van Skotland bereik en het Glasgow hard getref.
Die winde sal na verwagting oor die land versprei en sal tussen 15:00 en 18:00 (plaaslike tyd) op hul sterkste wees, het die weerkantoor gesê.
Daar sal na verwagting ook ligte sneeuval wees, maar dit sal vinnig deur swaar reën en stormagtige toestande gevolg word, het die weerdiens gesê.
Hoewel Skotland na verwagting die ergste deur die storm geraak sal word, word sterk winde ook in dele van Engeland verwag.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP