Stadsfees reik ver
2012-02-21 08:03
Die Suidoosterfees het, soos die lokreël lui, vanjaar “iets vir almal” gehad: van onse Mimi Coertse tot Casper de Vries en van bekende 7de Laan-spelers tot lekker hoenderburgers en skyfies vir net R25.
Die Suidoosterfees is steeds een van die toeganklikste feeste in die land, sommer so in die hart van die Moederstad. Ons is bevoorreg om die kunste en Afrikaans jaarliks op só ’n toeganklike manier op ons drumpel te hê.
Vanjaar was daar ’n sterk gemeenskapskomponent.
Plekke in en om Kaapstad is herdenk. Plekke soos Mitchells Plain, Bishop Lavis, Worcester, die Weskus, die Eden-distrik, Beaufort-Wes en Delft, tesame met hul mense, is op die fees verteenwoordig.
De Vries was snaaks, maar dit was teleurstellend hoe hy ’n stampvol operahuis met net ’n Huisgenoot en Die Burger in die hand aan die lag probeer kry het. As hy vloek, dan lag die mense. Hierdie affêre was maar baie louwarm.
Die tema, “’n Fees van die liefde”, het my daarna laat soek te midde van produksies soos Baby en Dit voel leeg, wat ook van die donker kant van die liefde vertel.
Saterdag ontmoet ek die sanger Auriol Hays in ’n kroegie. Tóé kon ’n mens die liefde aanvoel...van die romantiese tot die siniese. Sy was soos ’n pas geskinkte glasie vonkelwyn. Groot wit blom in die hare. Skoene uitgeskop. Sy leef haarself in haar musiek in, haar musiek is haar hartstog. Haar lirieke is intiem en betekenisvol.
Die Central Karoo Revue, wat op die Karoodorp Beaufort-Wes afspeel, was topgehalte-gemeenskapsteater.
Dit begin met ’n rolprent oor die dorp wat in die agtergrond draai terwyl ’n tweemangroep musiek maak. Dit is teater wat sy gemeenskap se probleme pak, maar ’n mens voel hoop aan.
Die regisseur Celeste Slabber-Loriston het regtig wonderbaarlik met hierdie amateurs gewerk om Central Karoo Revue met soveel sukses en so seepglad met sang en dans na die planke te bring.
Die komediant Shimmy Isaacs, ’n boorling van Worcester, is nog ’n juweel van die fees.
Haar storie oor hoe sy as jong meisie haar borste ontdek het en hoe dit haar lief en leed beïnvloed het, is met groot komiese vernuf vertel en flink deur Anthea Thompson geregisseer.
Die nuwe spelers in die KKNK-treffer Bullets Over Bishop Lavis, geskep deur Christo Davids en Jody Abrahams, sal in April in die Baxter ’n draai maak.
Dié stuk oor twee vriende van Bishop Lavis wat verskillende lewenspaaie kies, gryp aan en met nog so ’n bietjie skaafwerk gaan die drama iets groots wees om na uit te sien.
Up in Smoke, die wenstuk van die Weskus-Eden-dramafees, is ook gehalte- gemeenskapsteater, hoewel die storielyn van ’n “tikmonster” ’n bietjie lank in die tand word. Steeds, net die feit dat hierdie toneelstuk deur ’n tiener geskryf en geregisseer is, maak dit die moeite werd om die produksie te ondersteun.
En hoewel die klem in gemeenskapsteater steeds te veel op die holruggeryde sosiale siektes soos bendegeweld, dwelms en tienerswangerskappe val, word jy daaraan herinner dat dit steeds die voorste dinge in mense se gedagtes is en dat te veel lewens steeds daardeur verwoes word.
Hierdie stories, myns insiens, moet nou ook ander invalshoeke begin kry.
Dit is iets waaraan die organiseerders vir die Suidoosterfees volgende jaar moet dink.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger