Stadig oor die Sederberg se klippe
2010-08-24 11:00
Kaapstad - Die N7 Citrusdal toe lê lank en maer voor die bande.
Langs hom lê 'n vrou op 'n advertensiebord. Sy's minder maer, en lê boonop langs een van daai weegskale vir vragmotors met die woorde "Ek's getoets" bo haar kop.
"Sjoe," dink ek, "word die tannies hier so groot dat hulle op trokskale geweeg moet word?"
Ons ry by woorde soos Piekenierskloof, Witwater en Bergsoom verby, en die graffiti langs die pad is in Afrikaans, vir 'n verandering.
Klaar voel ek tuis, en trap die pedaal so bietjie platter.
Ek's angstig om in Algeria-reservaat in die Sederberge uit te kom, maar toe ek die grondpad na die Sederberg-natuurreservaat vat, besef ek gou: hier gaan ek nie injaag nie.
Dié landskap dwing jou om stadig te verkeer.
Ek moet stadig ry, want die grondpad is woes en vol verrassings.
Ek moet stadig stap; die voetslaanroetes is klipperig en plek-plek maar yl sigbaar.
En uiteindelik, besef ek teen die einde van die naweek, kan ek hier 'n bietjie stadiger dink. Want maak nie saak hoe hoog ek in die bome opklim nie, my foon wys net een ontvangsstrepie, en ek kan nie my skootrekenaar by 'n kaggel herlaai nie.
Ek dink ek sal Maandagoggend, terug op kantoor, ook so bietjie stadiger probeer wees.
Ons sal maar sien wat my baas daarvan sê.
Charles Thompson is 'n inhoudsvervaardiger en fotograaf vir Nuus24. Kom kyk wat hy te sê het in sy blog en volg hom hier op Twitter.