'Stad gaan baie besoekers lok'
2011-10-27 07:00
Kaapstad – Ses sleutelbyeenkomste wat Kaapstad in 2014 as Wêreld-ontwerphoofstad gaan aanbied, sal ’n ekonomiese inspuiting vir die stad én die omliggende munisipaliteite bring.
Die hele provinsie gaan daarby baat vind, het Guy Lundy, hoof van Accelerate Cape Town, Woensdag gesê.
Die ses byeenkomste gaan nie alles gelyktydig gehou word nie, het hy gesê.
“Dit gaan oor maande versprei word, en dit gaan ook nie noodwendig almal op dieselfde plekke gehou word nie.”
Die byeenkomste gaan só gereël en gehou word dat ontwerpers uit die townships ook blootstelling kry.
Lundy het gesê Kaapstad het in sy bodboek van 465 bladsye gefokus op die geïntegreerde busdiens, oop ruimtes in die middestad en Kaapse woonbuurte wat deur middel van ontwerp in ontspanningsplekke vir die inwoners omskep is.
Die Kaapstad-stadion, die Groenpunt-stadspark en die Lekkerlooproete is ook onder die ontwerpe wat uitgewys is.
“Kaapstad kan daarop staatmaak dat baie ontwerpers en besoekers uit die buiteland hierheen gaan kom.
“Dié mense sal wil sien wat ons anders doen om gemeenskappe saam te snoer en stedelike vernuwing te bevorder.”
Volgens Lundy het die Italiaanse stad Turyn, wat in 2008 die Wêreldontwerphoofstad was, meer besoekers ontvang as in 2006 toe die Olimpiese Winterspele daar aangebied is.
Die hoof van Cape Town Routes Unlimited, Calvyn Gilfellan, het die stadsraad gelukgewens met die toekenning.
Hy het in ’n verklaring gesê dit gaan die geleentheid wees vir die vroue in die townships wat juwele ontwerp om ook blootstelling te kry.
Boonop gaan die byeenkomste werksgeleenthede skep, hotelbesprekings gaan kom, vliegtuigkaartjies gaan gekoop word en mense sal die res van die provinsie wil verken, het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger