Splashy Fen gaan groen
2010-02-05 14:27
Kaapstad - Vanjaar se Splashy Fen-musiekfees naby Underberg in die suidelike Drakensberge gaan dié jaar hul deel vir die omgewing doen terwyl hulle die musiekliefhebbers ook gelukkig hou.
Dié groot fees wat oor die Paasnaweek plaasvind vier vanjaar hul 21ste bestaansjaar en saam met die feesvieringe word daar op ernstige kwessies gefokus.
Die organiseerders poog om dié jaar meer aandag aan hul verantwoordelikheid teenoor die omgewing te spandeer.
In samewerking met Durban se The Green Depot en die eko-restaurant Corner Café kan feesgangers meer eko-vriendelik wees en ‘n groener leefstyl by die fees aanneem.
Die eko-dorp, wat slegs deur wind, water en sonenergie bedryf gaan word, sal eko-vriendelike kampering en ‘n omgewingsvriendelike filmfees bied terwyl hulle geen besoedeling aanmoedig.
As jy lus is om 'n bietjie uit die stad se gejaag te kom en die beste in plaaslike musiek te hoor, moet jy nie Splashy Fen van 1 - 5 April misloop nie.
Die volledige program is nog nie gefinaliseer nie, maar Fokofpolisiekar, Syd Kitchen, the Albert Frost Trio, Hot Water, New Holland, Tidal Waves en Ard Matthews (van Just Jinjer) is al bevestig.
Vir meer inligting oor die fees en hul groen-inisiatief besoek www.splashyfen.co.za