Spinnekop trek kransswaeltjie vas
2011-04-12 11:00
Die Burger
’n Spinnekop in die Vrystaat het weer die mensdom aan die praat. As dié insekte nie slange vang nie, vang hulle voëls.
’n Wyfie van die spesie gouewebspinnekop (Nephila senegalensis) het ’n kransswaeltjie in haar kragtige web op ’n ou tennisbaan op die plaas Zeekoegat by Rouxville gevang.
Hoewel al in die Bosveld ’n voorval waargeneem is waar sulke spinnekoppe ’n geelvlekmossie gevang het, is dit sover bekend die eerste keer dat ’n swaeltjie in hul groot goue web vasgetrek is.
’n Voorval waar ’n bruin knopiespinnekopwyfie in 2004 ’n klein aurora-huisslang in Bloemfontein gevang, toegespin en opgevreet het, het baie belangstelling by mense ontlok.
Die jongste voorval is onlangs waargeneem toe die grys swaeltjie gesien is waar hy spartelend in die web vasgesit het.
Die groot bont spinnekopwyfie het nuuskierig nader gestaan.
Toe die voëltjie bevry is, het sy vinnig nader gehardloop na waar haar prooi was. Die tingerige bruinrooi mannetjie het veilig in die middel van die web geskuil.
Die kransswaeltjie het haastig en ongeskonde weggevlieg.
Leon Lotz, arachnoloog van die Nasionale Museum in Bloemfontein, sê die algemene naam van die spinnekoppe is gouewebspinnekoppe (Nephila senegalensis).
Die klein bruinrooi spinnekop op die foto’s is die mannetjie.
Op die vraag of dié geel spinnekoppe, wat nou volop is in tuine in die Suid-Vrystaat, giftig is, het hy gesê die meeste spinnekoppe besit wél gifkliere, maar soos die meeste van dié soort spinnekoppe, is dit nie gevaarlik vir die mens nie.
“Dit is nie die eerste foto’s van só iets wat ek sien nie, maar hoe gereeld dit gebeur, kan ek nie sê nie. Ek kan ongelukkig ook nie sê of die spinnekop die voël sal vreet nie. Mense wat op so iets afkom, red gewoonlik die voël.”
Lotz het gesê die gouewebspinnekoppe vreet normaalweg groterige insekte soos sprinkane en motte.
Dawie de Swardt van die departement ornitologie in die Nasionale Museum het die grys voëltjie op die foto’s in die web as ’n kransswael uitgeken. Dit is ’n standvoël, wat beteken hy migreer nie. Hy kom veral in bergagtige gebiede voor en bou graag sy koppievormige nes by plaashuise. Die nes is ’n oop bakkie soos dié van die witkeelswael.
De Swardt het gesê die voëltjie het vermoedelik in die web vasgevlieg. ’n Spinnekopweb is gewoonlik tussen bome en dus op die vlugroete. Baie keer vlieg voëls laag – veral naby hul nes. Hy het gesê volgens die voëlkenner Roberts is daar nie ’n opgetekende geval van ’n swaeltjie wat in ’n spinnekopweb gevang is nie.
- Die Burger