Soektog na ontvoerde Britse toeris duur voort
2011-09-13 13:55
Kaapstad – Die polisie werk hard om die Britse toeris wat in Kenia ontvoer is, se vrylating te verseker.
David en Judith Tebutt het pas by die luukse vyfster Kiwayu Safari Village naby die grens van Kenia en Somalië ingeboek toe die voorval plaasgevind het.
Volgens berigte het ‘n groep mense Saterdag omstreeks middernag met ‘n motorboot by die oord aangekom en die 58-jarige David, wat hulle probeer keer het, doodgeskiet.
Hulle het die 56-jarige Judith saam met hulle geneem.
“Ons werk hard om te verseker dat die Britse burger wat ontvoer is vinnig en veilig vrygelaat word en ons vra diegene wat betrokke is om hul deernis te toon en haar onmiddellik vry te laat,” het ‘n woordvoerder gesê.
In die tussentyd het Sky News berig dat die polisie in Kenia ‘n verdagte in hegtenis geneem het wat moontlik by die moord en ontvoering betrokke was.
Streekskommissaris Stephen Ikua is deur The Times aangehaal dat ‘n plaaslike man in hegtenis geneem is en dat hy daarvan verdink word dat hy gehelp het om die aanval te beplan en uit te voer.
– Breaking Travel News
– Volg Nuus24 op Twitter