Skubaduikers nie op haai se spyskaart
2010-09-17 10:22
Johanna van Eeden
Wanneer Barnie de Klerk oor haaiduik praat, raak hy skoon liries. Hy rits haaisoorte op sy vingerpunte af asof hulle goeie vriende is.
Hangvlieë, spinnekoppe, leeus, haaie ... Hy is al van kleintyd gefassineer deur roofdiere, vertel Barnie de Klerk (48) van Middelburg in Mpumalanga.
Hy werk as streekbestuurder by Afrox, maar een naweek in ’n maand breek hy weg, pak sy duikpak en gaan swem saam met haaie.
Hy duik al meer as 20 jaar, en sê haaie is wonderlike seediere.
“Ek vergaap my aan hulle. Sommige spesies reageer ook nuuskierig op mense in die water, sodat interaksie moontlik is.”
Wanneer jy haaiduik, sê hy, kom veiligheid eerste.
“Jy moet eers heeltemal gemaklik wees in die water en dan kan jy jou aandag op die seelewe toespits.
Die haaie gaan jou nie byt nie. Jy is nie op hulle spyskaart nie. Jy kan jou met vrymoedigheid verkyk aan hul skoonheid en grasie.”
Enigiemand wat lief is vir die see, kan haaiduik, vertel De Klerk.
“Vir ten minste die eerste paar haai-interaksies is avontuurlus ook nodig!”
Maar ons praat nou hier van haaiduik, nie haaihok-duik, daardie “veilige” uitstappie nie.
Beteken dit haaiduikers is mense wat risiko’s loop?
Nee, skerm De Klerk onmiddellik.
“Haaiduikers is nie risikolopers nie. Kansvatters gaan seerkry, ongeag wat jy doen. Kyk maar na windgat-motorbestuurders!
As jy veilig kan skubaduik, is haaiduik nie gevaarlik nie - die gevaar lê in jou reis see toe.
“Daar is natuurlik altyd ’n bietjie risiko. Haaie is wilde roofdiere en die moontlikheid van byt-voorvalle is seker daar.
Dit kan per ongeluk gebeur of self as ’n haai homself wil beskerm teen ’n duiker wat sy persoonlike ruimte betree.”
Oor haaihok-duik sê De Klerk hy kan nie dink dat ervare duikers “soos dieretuin-apies in ’n hok wil sit wanneer jy vry kan swem saam met Neptunus se kinders nie”.
Shark Park, ’n mariene bewaringsgebied aan die KwaZulu-Natalse suidkus, wat die Aliwalrif insluit, is sy gunsteling-duikplek.
“Die biodiversiteit aan die suidkus is ongelooflik.
Dit is ’n mengsel van tropiese spesies en kouewaterspesies en die teenwoordigheid van tierhaaie, swarttip-haaie, donkerhaaie, bronshaaie, hamerkophaaie, zambezihaaie, skeurtandhaaie, roe, mantas, sandhaaie, sandbankhaaie en walvishaaie.
“Tierhaaie is my gunsteling. Hulle het ’n teenwoordigheid wat groter as hulself is, kyk jou vas in jou oë en dit is definitief nie ’n dom viskyk nie!
“Tierhaaie is skugter, maar met ’n bietjie geduld en die regte benadering word hulle wonderlike duikmaats.
Ek weet mariene bioloë sê tierhaaie het nie die ‘speelplekkie’ van soogdierbreine nie, maar ek kan nie hul gedrag anders vertolk as speel nie.”
’n Tipiese haaiduik is vlak en duikers skuba tussen 75 en 90 minute. Daarna snorkel hulle saam met die haaie.
Jou diepte hang ook af van watter haaispesie jy wil sien.
“’n Aasdrom word op 5 m diep in die water gesit. Dit is onnodig om ooit veel dieper as dit te duik vir pelagiese haaie.
“Om skeurtandhaaie te sien in Aliwalrif se Raggies Cave, duik jy sowat 16 m diep.
Vir walvishaaie in KwaZulu-Natal se somermaande het jy net ’n snorkel nodig.”
De Klerk het al in Australië, Maleisië, Kalifornië, Zanzibar, Mosambiek, Mauritius en Kenia geduik.
Hy droom van duike in Mexiko, Tonga, Fidji en die Bahamas.
Vir diegene wat wil haaiduik, selfs net as ’n eenmalige ervaring, beveel hy aan dat hulle www.bluewilderness.co.za besoek.
“Mark en Gail Addison van Blue Wilderness is beslis die mees professionele, hulpvaardigste en vriendelikste mense om mee saam te duik.
Mark is die baanbreker wat haaiduike sonder ’n hok wêreldwyd geïnisieer het. Sy kennis is ongelooflik.”
De Klerk sê haaie word ernstig bedreig deur menslike aktiwiteite.
“Van hulle word voor die voet deur vissers doodgemaak, ander is die slagoffers van ’n gewetenlose haaivinbedryf.”
Hy sê die KwaZulu-Natalse haainette is ook ’n bedreiging vir mariene ekologie en beveel aan dat belangstellendes meer daaroor lees op die webwerwe www.removethenets.com en www.sharksavers.com
Vir die volledige storie besoek DieBurger.
Volg Nuus24 op Twitter.