Skoene dalk oorsaak van Duitse toeris se dood
2012-05-11 14:40
Wellington – ‘n Vier-en-twintigjarige Duitser wat 300 meter na sy dood geval het terwyl hy in Nieu-Seeland gestap het, het die verkeerde skoene gedra en het die land se koue weerstoestande onderskat, het ‘n lykskouer bevind.
Julian Stukenborg, ‘n vliegtuig-ingenieur van Delmenhorst, het in Junie gegly en by ‘n krans afgeval toe hy ‘n stappaadjie op die Suid-Eiland verlaat het om foto’s te neem, het die Wanaka-lykskouer, David Crerar, gevind, het die APNZ-nuusagentskap Vrydag berig.
Hy sê daar kon moontlik ‘n lagie ys en ligte sneeu gewees het en dat die stapper ligte stapskoene met ‘n buigbare sool gedra het.
“Die sterfte van Julian Stukenborg is nog ‘n tragiese voorbeeld van ‘n oorsese besoeker aan ons land wat Nieu-Seeland se bergtoestande, veral die wintertoestande, onderskat het,” het die lykskouer gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA