Sewe sterf in Thailand oor pesdoders vir bedgoggas
2011-05-10 14:09
Thailand – ‘n Britse paartjie was onder sewe toeriste wie se dood in Thailand verbind word met giftige pesdoders wat teen bedgoggas gebruik word.
Die twee pensionarisse, George Everitt, 78, en sy vrou Eileen, 73, se lyke is in hul kamer by die Downtown Inn in Chiang Mai gevind.
‘n Geheime ondersoek het skokkende bewyse gelewer wat die sterftes tussen Januarie en Maart met mekaar verbind het nadat al sewe by die hotel gebly of hul geriewe gebruik het.
Die polisie het die sterftes eers toegeskryf aan erge voedselvergiftiging wat veroorsaak is nadat hulle giftige seegras by ‘n stalletjie van die basaar geëet het.
Meeste van die slagoffers het soortgelyke simptome gehad, insluitende inflammasie van die hart, wat vermoedelik deur besmette kos of water veroorsaak kon wees.
Die polisie het oorspronklik vas bly staan by die bewering dat die sterftes wat met die driester-hotel verbind word toevallig was, ten spyte van herhaaldelike bewerings deur die slagoffers se families dat die waarheid toegesmeer word.
‘n Ondersoek deur New Zealand 60 Minutes het getoon dat die hotelkamers met ‘n potensieel dodelike gifstof, genaamd pyrophus, gespuit is. Hierdie gifstof is in baie ander lande verban vir binnemuurse gebruik.
Verslaggewers wat hulself as gaste voorgedoen het, het monsters geneem van die kamer op die vyfde vloer waar die Nieu-Seelandse reisiger Sarah Carter, 23, in Februarie dood is.
Die toetsresultate het getoon dat daar tekens van ‘n pesdoder genaamd chlorpyrifos in die kamer was – ‘n chemikalie wat gebruik word om van bedgoggas ontslae te raak.
Lees meer by die Mail Online
Volg Nuus24 op Twitter