Senegal, Mauritanië eindig vlug-dispuut
2011-10-14 11:48
Dakar – Lugverkeer tussen Senegal en Mauritanië is ná ‘n stilstand van drie maande weer hervat nadat ‘n einde gebring is aan ‘n dispuut oor vlugte, het Senegalese bronne gesê.
‘n Vlug van Senegal Airlines van Dakar na Nouakchott het Donderdagmiddag opgestyg, het ‘n beampte van die lughawe gesê.
Daar was geen onmiddellike inligting oor moontlike vlugte in die teenoorgestelde rigting deur Mauritania Airlines nie.
‘n Dispuut wat daartoe gelei het dat alle vlugte tussen die twee lande sedert vroeg in Julie gestaak is, was gebaseer op ‘n “misverstand”, het Senegal se direkteur-generaal vir vervoer, Cheikh Tidiane Senghor, gesê.
In Julie is Senegal Airlines verhoed om na Nouakchott te vlieg in vergelding vir Senegal se weiering om Mauritania Airlines toe te laat om op Afrika-roetes van Dakar te vlieg.
Die twee lande het op 4 Oktober ‘n ooreenkoms geteken om die dispuut tot ‘n einde te bring, het Tidiane Senghor gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP