Segway-pretroete open in Denemarke
2011-10-24 10:14
Kaapstad – Die wêreld se eerste 4x4-Segway-roete open Vrydag in Aarhus in Denemarke en is ‘n miniatuur weergawe van die Yellowstone Nasionale Park, het die eienaar van Segworld Park aan AFP gesê.
Besoekers aan die park kan hul tweewiel Segways deur die berge en watervalle van ‘n reuse-binnemuurse saal bestuur.
“Ons het 6 000 vierkante meter en het die ewebeeld van die Yellowstone Nasionale park, met berge en watervalle en roetes met enigiets van graniet tot seeskulpe gebou – allerhande soorte dinge. Jy kry die gevoel dat jy werklik in die park ry,” het Paul Teichert aan AFP gesê.
“’n Uitstappie in die saal is ‘n kruis tussen ‘n vlieënde mat en om te ski in die Alpe. En vir diegene wat een van die roetes as ‘n resies doen het ons outomatiese tydmeganismes wat seker maak dat hulle nie kroek nie,” het Teichert gesê.
Die Segway is ‘n elektriese vervoermiddel met twee wiele wat self balanseer.
Teichert sê dié Deense park is die eerste van sy soort in die wêreld “en sal vir ‘n lang tyd die grootste wees.”
Hy het bygevoeg dat daar in toetse vasgestel is dat vroue aan die begin beter bestuurders op die roetes as mans is.
“Hulle is meer versigtig aan die begin. Mans gaan net en eindig dan op hul agterente op,” het hy gesê.
Uitvoerende hoofde van die Amerikaanse Segway-maatskappy sal binnekort na Denemarke gaan om die saal te bekyk.
Hy het bygevoeg dat sekuriteit die hoofbron van kommer was vir die bouers en al die paaie en roetes is deur beide die polisie en Denemarke se instituut van tegnologie goedgekeur.
Die Segway is in 2002 bekendgestel as ‘n revolusionêre manier van vervoer in die stad. Dit kan teen 19 km/h beweeg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP