SA se toerisme op die regte spoor
2011-08-29 11:45
Kaapstad – Suid-Afrika is op die regte pad met sy toerisme-bemarkingstrategieë, het die minister van toerisme, Marthinus van Schalkwyk, tydens die bekendstelling van Toerismemaand-2011 gesê.
Van Schalkwyk het gesê alhoewel marktoestande oor die wêreld uitdagend bly, het die eerste kwartaal van 2011 se resultate ‘n positiewe neiging getoon.
Suid-Afrika het van Januarie tot April 2011 2 750 175 buitelandse besoekers gehad. Dié syfer is 7,5% hoër as die 2 558 715 wat oor dieselfde periode in 2010 aangeteken is.
Kernmarkte is steeds sterk, met goeie groei wat in nuwe markte soos China, Brasilië en Indië aangeteken word.
“Laer besettings in hotelle beteken nie dat besoekersgetalle na die land afneem nie. Inteendeel, ons ervaar steeds indrukwekkende groei,” het Van Schalkwyk gesê.
“Wat dit wel aandui is dat daar ‘n skuif is in wat verbruikers verkies en waar mense kies om hul geld te spandeer wanneer hulle op vakansie is in Suid-Afrika.
“Dit is dus belangrik dat ons nog harder werk om die toerismemark te verstaan en om in die behoeftes van internasionale reisigers te voorsien.”
– Lees meer by Tourism Update
– Volg Nuus24 op Twitter