Rugby 'n groot hupstoot vir NS-toerisme
2011-08-11 14:38
Kaapstad – Dit blyk of internasionale besoekersgetalle by hierdie jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Nieu-Seeland verwagtinge gaan oorskry, ten spyte van die land se huidige ekonomiese probleme, het organiseerders Dinsdag gesê.
Die hoeveelheid oorsese besoekers wat die toernooi na raming sal bywoon is van 85 000 na 95 000 verhoog danksy 'n sterk vraag na kaartjies, het Martin Snedden, uitvoerende hoof van Rugby New Zealand 2011, gesê.
“Die toename in ondersteuning van oorsese rugby-ondersteuners is ‘n positiewe teken van vertroue in ons bekwaamheid om die grootste sportgeleentheid wat Nieu-Seeland nog ooit gehad het aan te bied,” het hy gesê.
Snedden het bygevoeg dat die syfer positief vergelyk met die 66 000 internasionale ondersteuners wat in 2003 na Australië gereis het vir die Wêreldbeker-toernooi.
Australië sal na verwagting die grootste bron van buitelandse besoekers wees, met meer as 30 000 besoekers wat na verwagting oor die Tasmaanse See sal reis vir die toernooi, gevolg deur Brittanje en Ierland (25 000), Frankryk (10 000) en Amerika (10 000).
Inkomste uit kaartjieverkope staan op NZ$234 miljoen (sowat R1,4 miljard), het Snedden gesê, en bygevoeg dat organiseerders positief is oor die mikpunt van NZ$268 miljoen (R1,6 miljard) wat hulle wil bereik.
“Ons het ‘n baie bereikbare teiken,” het hy gesê.
Volgens Snedden blyk dit nie of die vraag na kaartjies vir die toernooi, wat tussen 9 September en 23 Oktober plaasvind, deur die ekonomiese probleme in die finansiële markte geraak word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP