Roei kajak in Storms
2011-01-18 13:45
Die Burger
Om in die Stormsriviermond kajak te roei en op ’n lugmatras uit te span, is ’n gawe bederf weg van alles af. MARZAHN BOTHA het aan dié aktiwiteite deelgeneem.
Aktiwiteite in die Tsitsikamma Nasionale Park is volop. Staptoere, snorkel, skubaduik, en ’n bootrit in die Stormsriviermond maak van hierdie gedeelte ’n avontuurparadys.
Maar kajak-roei en kloofing wat aangebied word deur Untouched Adventures is nuwe avontuur-aktiwiteite in dié mond, wat ’n kombinasie van ontspanning en inspanning vir die besoeker inhou.
Meer as twee en ’n half uur lank kajak-roei en dryf die besoeker in ’n roeiboot en op ’n lugmatras in die donker waters van die riviermond.
Besoekers trek ’n duikpak en reddingsbaadjie aan, word ’n roeispaan in die hand gestop en jou sitvlak “betree” die see in die kajak. In die kabbelende pylvak van 700 m in die see tot by die mond, roei jy onderdeur ’n hangbrug. As jy uit die kajak spring en snorkel, sien jy korale, vaalpenshaaie en sandhaaie wat in die omgewing voorkom. Nóg seediere soos dolfyne, walvisse, robbe en pylsterte kan jou nou en dan verras.
Marthinus van der Westhuizen, eienaar van Untouched Adventures, het in September verlede jaar met die aktiwiteit begin.
“Hierdie gebied is die oudste beskermde mariene gebied in Afrika, en die seelewe is nog onaangeraak.”
Van der Westhuizen sê hy wou mense wys hoe mooi dit laer af in die rivier is – daar waar niks en niemand kom nie.
In hierdie kloof rank die kranse 80 m hoog op, en hulle vorm ’n nou kloof om deur te roei.
In die stiller waters kan die besoekers terugsit en hulle aan die natuurskoon verwonder. Volgens Gert Botha, wat in Desember aan die aktiwiteit deelgeneem het, was dit vir hom wonderlik om te sien hoe die son oor die kranse val.
“Ek kon die son onthou wat oor die swart, onheilspellende tannien-waters en op die varings en die varkore skyn.” (Die wortels van die waterplante verkleur die water – amper soos ’n teesakkie.)
“Die roete was nie veeleisend nie, jy voel fisiek aktief danksy die roei van ’n uur en die gawe afwisseling van net agteroor rus op die lugmatras , laat jou heeltemal ontspan.”
Die kajakke word in ’n stadium vasgemaak en die avonturiers spring dan oor op ’n opgeblaasde lugmatras.
“Hoe dieper jy in die rivier op beweeg, hoe nouer word dit, maar hoe groter is die wêreld wat vir jou oopgaan. Die kranse beweeg op plekke nader aan mekaar en op plekke kan jy jou arms uitstrek en daaraan raak,” sê Botha.
“Jy kan natuurlik ook in die verfrissende waters swem, tot by die plek waar die opskietkrans wal slaan teen die water.
“Terwyl jy roei, is daar ook plekke waar die piepende vlermuise in die uitgeholde grotte voorkom, waar bobbejane teen die kranse uitklouter en waar klein rotsgedeeltes in die water plons.
“Danksy die rustigheid kry jy die gevoel dat jy meestal verwyderd is van ander mense, wat goeie dinktyd is.”
Die uitspan op die lugmatras-gedeelte duur so ’n uur en ’n half, waarna jy terugkeer na die kajakke om weer land toe te roei. As die boot verby jou kom, is jy dankbaar jy het ’n bietjie meer energie verbruik om verder in die mond op te beweeg – dis hier waar die stilte jou insluk en ’n ruk lank hou.

Die avontuur begin met ’n roeitog by die Stormsriviermond.
Foto: MARZAHN BOTHA