Reuse-rotse tuimel op Tafelberg-parkeerterrein neer
2011-06-07 15:51
Die Tafelberg-sweefspoor en Tafelberg Nasionale Park sal kenners inroep om die berg te inspekteer nadat drie groot rotse Dinsdagoggend in die bus-parkeerarea naby die onderste kabelkarstasie beland het.
Die voorval het om 08:20 plaasgevind voordat die sweefspoor-maatskappy om 08:30 oopgemaak het. Niemand is beseer en geen eiendom is tydens die voorval beskadig nie.
‘n Besoeker, Lizette Nel, het gesien hoe die rotse geval het terwyl sy in haar motor op Tafelberg-weg gesit en wag het vir die kabelkar om oop te maak.
“Ons het ‘n dreunende klank gehoor en gesien hoe drie groot rotse van redelik hoog op van die berg begin rol. Ons kon sien hoe die rotse die gras-gedeeltes tref en een vir een na die pad rol,” het Nel gesê.
Volgens Nel het die bome, wat naby die onderste deel van die berg geplant is, die rotse se spoed effens gebreek voordat hulle in die pad beland het waar die toerbusse gewoonlik parkeer.
In die 82-jaar geskiedenis van die kabelkar was daar nog nooit ‘n rotsstorting by die onderste stasie nie, het Sabine Lehmann, uitvoerende hoof van die sweefspoor-maatskappy, gesê.
Sy het verder gesê dat sy onmiddelik werkers uitgestuur het om vas te stel of daar nie verdere risiko’s van rotsstortings kan wees nie. Sy sal ook kenners inkry om die risiko te beraam.
“Ons prioriteit is om die veiligheid van ons besoekers en werkers te verseker. Ons moet die erosie op daardie deel van die berg ondersoek en na maniere kyk om enige risiko uit te sluit vir besoekers wat na die onderste stasie kom.
Vir meer inligting kontak die bemarkingsbestuurder van die sweefspoor, Collette van Aswegen, op +27 (0)82 334 5120.
Volg Nuus24 op Twitter