Renoster sit Weskus weer op die bergfietskaart
2010-10-13 12:17
Eunice Visagie
Die Burger
Die Weskus gaan spoedig weer sy plek inneem as een van die land se voorste bestemmings vir bergfietsryers ná die Renosterveld-toer.
Reeds ná die eerste Renosterveld-bergfietstoer word dit die Weskus-Epic genoem.
Dié nuutjie op die bergfietskalender het die eerste naweek van vandeesmaand plaasgevind.
Die aksie het in Langebaan begin en ongeveer 300 km later op die wynlandgoed Meerendal in Durbanville geëindig.
Die deelnemers het oor die drie dae niks minder nie as 4 500 m geklim.
Die toer is aangebied om die aandag op die kwynende renosterveld te vestig.
Justin Basson, die eienaar van Clara Anna Fontein en ’n vegter vir die oorlewing van die renosterveld, is die baasbrein agter dié driedaagse bergfietstoer.
Die renosterveld het eens op ’n tyd by Vanrhynsdorp in die weste begin en by Mosselbaai in die ooste geëindig. Vandag is daar net 4% van dié habitat oor.
Navorsing toon egter dat net minder as 1% daarvan formele beskerming geniet. Daar is dus geen twyfel nie dat die renosterveld die mees bedreigde habitattipe in die Kaapse planteryk is.
“As ons nie betrokke gaan raak en die renosterveld red nie, gaan dit binnekort te laat wees,” het Basson, wat ook lid van die Renosterveldtrust is, gesê.
Een van die land se bekendste bergfietsryers, Hannele Steyn-Kotzé, het aan die Renosterveld-bergfietstoer deelgeneem.
Daar is nie ’n roete in die Kaap wat sy nog nie aangedurf het nie. Oor die Renosterveld-toer kan sy egter nie uitgepraat raak nie.
“Ek het dit verskriklik baie geniet. Ek dink die organiseerders het die spyker op die kop geslaan. Dit was nie so maklik soos van die mense vooraf gedink het nie,” het sy gesê en bygevoeg dat sy dink dit was doenbaar vir iemand wat al voorheen bergfiets gery het – dalk nie vir padfietsryers nie.
“Dit was egter ’n ongelooflik mooi roete met die see en die blomme. Ek sal dit beslis aanbeveel vir ander. Jy ry vir ’n goeie saak; en die mense wat dit organiseer, is passievol oor die renosterveld én oor bergfietsry.”
Steyn-Kotzé het voorts gesê dit was een van die genotvolste toere waaraan sy tot nog toe deelgeneem het.
“Dit het al die elemente wat belangrik is vir ’n lekker bergfietstoer. Die roete was divers en die atmosfeer lekker.”
Van ’n diverse roete gepraat: Ná die tyd is daar baie gesels oor die sand wat deelnemers se lewe moeilik gemaak het.
“Dit is waar dat die sand die roete meer tegnies gemaak het. Justin het egter voor die tyd gesê dat sand en dorings twee van die renosterveld se vernaamste kenmerke is.
As daar dus nie sand op die roete is nie, is dit mos nie renosterveld nie!
“Die sand is ook nou die aspek waaroor mense die meeste praat en sommiges kla, maar dit was ’n uitdaging. En mense wil dit baasraak.”
Volgens Steyn-Kotzé word daar gepraat van die Sani2C in KwaZulu-Natal as die lekkerste bergfietstoer in Suid-Afrika. Sy glo dat die Renosterveld-toer die Kaap se Sani2C kan raak.
“Die Renosterveld-bergfietstoer het al die elemente om te sorg dat dít ons Sani2C raak – ons lekkerste bergfietstoer.”
Volg Nuus24 op Twitter.