Rekspronge opgeskort ná vrou in rivier beland
2012-01-13 06:52
Harare – ’n Zimbabwiese toerismemaatskappy het rekspronge by die Victoria-waterval opgeskort terwyl hy ’n ongeluk waartydens ’n toeris in die Zambezirivier geval het ondersoek, het ’n woordvoerder gister gesê.
“Ons skort rekspronge vir twee dae (van Woensdag af) op om ’n oudit van die ongeluk te laat doen,” het Clement Mukwasi, woordvoerder van Shearwater Adventures, gister gesê.
“Dit is om die ondersoekers en die bestuur kans te gee om die oorsake van die gebreekte koord te ontleed.”
Rekspronge kan die naweek hervat word, het Mukwasi bygevoeg.
Erin Langworthy (22) van Australië het op Oujaarsaand van die brug by die Victoria-waterval gespring en kop eerste in die Zambezirivier – 111 m onder die brug – beland.
Die ongeluk is op video vasgelê en daar kan gesien word hoe Langworthy die water tref terwyl haar voete nog vasgebind is. Sy het hierna in die rigting van stroomversnellings in die rivier gedryf.
Sy het dit reggekry om krokodille te vermy en kon haarself aan die Zimbabwiese kant van die rivier op die oewer kry.
Langworthy het ’n sleutelbeen gebreek en erge kneusings opgedoen. Sy is na Suid-Afrika gebring vir behandeling.
Volgens Mukwasi “sal alle ander aktiwiteite, soos die brugswaaie en die restaurant, normaalweg voortgaan”.
Zambië se minister van toerisme, Given Lubinda, het Sondag ’n reksprong gedoen om aan toeriste te wys dit is veilig.
Mukwasi het gesê die waarskynlikheid van ’n ongeluk is een in 50 000 per jaar.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP