Reisiger in sop ná Twitter-dreigement
2010-01-19 13:40
Londen - Paul Chambers, 'n 26-jarige man, is in hegtenis geneem en sy rekenaar en iPhone tydelik gekonfiskeer ná hy op Twitter gekla het oor 'n gekanselleerde vlug.
"Robin Hood-lughawe is gesluit. Julle het 'n week en 'n bietjie om julle goed agtermekaar te kry, ander blaas ek julle op!" het die gefrustreerde reisiger op Twitter geskryf.
Kommer oor lughawesekuriteit en die moontlikheid van 'n bom-aanval het polisie laat toeslaan, en Chambers is vir ses ure lank ondervra voor hy op borgtog vrygelaat is.
Chambers se vlug vanaf die Robin Hood-lughawe naby Doncaster in Engeland is gekanselleer as gevolg van swaar sneeu, wat die afgelope ruk talle vervoerstelsels in die Verenigde Koninkryk en Europa lamgelê het.
- Lees die volledige storie in The Guardian