Regering sensor glo toeriste-sterftes in Fidji
2011-09-13 16:55
Kaapstad – ‘n Vlaag geheimsinnige sterftes op die militêr-beheerde eiland Fidji het gelei tot beskuldigings dat amptenare die mediadekking sensor om die multi-miljoen dollar toerismebedryf te beskerm.
‘n Japannese vrou, Amerikaanse sakeman en twee Nieu-Seelanders is in die afgelope drie maande in Fidji dood.
Die mees onlangse sterfte was Mami Nakamura, ‘n 27-jarige Japannese student wat by ‘n Engelse taalskool studeer het. Haar ontbinde lyk is op 5 September tussen wortelbome gevind.
Nakamura was ses dae voordat haar lyk gevind is laas gesien toe sy na ‘n strandpartytjie in Nadi op pad was.
Die media in Fidji het niks oor die voorval berig nie, tot ‘n paar dae gelede.
Regering-sensors beheer elke nuuskantoor op die eiland en volgens bronne het amptenare die media eers toegelaat om oor die voorval te berig ná dit deur anti-regering-blogs uitgelek het.
Coup Four and a Half, ‘n blog-webwerf, het beweer dat die plaaslike media deur ‘n regime, wat bang is dat die negatiewe publisiteit toeriste sal weghou, gewaarsku is om nie oor die buitelanders se sterftes te berig nie.
– Lees cie volle berig by The Telegraph
– Volg Nuus24 op Twitter