Realiteitsprogramme goed vir toerisme
2011-10-10 11:16
Kaapstad – Meer en meer realiteitsprogramme maak deesdae hul verskyning op ons televisies en daar is onlangs bevind dat dié programme toerisme ‘n hupstootjie kan gee.
Cheapflights.co.za, die gewilde Britse reiswebwerf waarop reispakkette vergelyk kan word, het bevind dat daar ‘n toename is in gebruikers wat bestemmings wil besoek waar realiteitsprogramme onlangs verfilm is.
Daar was ‘n toename van 89% in internet-soeke na Mykonos in Griekeland nadat die deelnemers van die realiteitsreeks X-Factor soontoe geneem is.
Die program is eers verlede naweek uitgesaai, wat dus dui op ‘n beduidende toename binne slegs ‘n paar dae.
Belangstelling in Cannes in die suide van Frankryk het die tweede meeste toegeneem en is gedryf deur die program Made in Chelsea.
Dié bestemming se gewildheid het met 39% toegeneem sedert die program op 12 Junie 2011 uitgesaai is.
Daar was ook meer belangstelling in Barcelona en Miami, wat beide ook X-Factor-bestemmings is.
Gordon Ramsay se kookprogram, Gordon’s Great Escape, het belangstelling in Suidoos-Asië met 4% laat styg sedert die program in Mei uitgesaai is.
Bestemmings soos Indië, Viëtnam, Thailand, Kambodja en Maleisië, waar die program verfilm is, trek ook voordeel uit die program.
– Volg Nuus24 op Twitter