Ratelspore sien jy maar min
2010-08-27 23:55
’n Gids gaan wys jou die natuurgeheime van Witsand waar ook duisende skoenlappers in die laatsomer saamtrek, skryf JACKIE PIENAAR-BRINK.
’N Ratelspoor, sê ons gids, sien ’n mens selde hier in Witsand. Toe hy een oggend so gelukkig is om dit aan ’n groep Duitsers uit te wys, gaan foeter die een reg bo-oor in sy haas om ’n voël af te neem.
Einde van ratelspoor.
Hy het nie ’n kwaal met foto’s nie, beklemtoon Richard Jessnitz, maar hou tog asseblief net ágter die gids.
Reël nommer twee: “Daar’s nie iets soos ’n dom vraag nie.”
Reël nommer drie: “Hierdie is nie ’n militêre patrollie nie. Kom ons gesels.”

En daarmee is die formaliteite afgehandel voordat ons hier in die Kalahari, so 100 km van Postmasburg, die wit duine van Witsand op ’n begeleide staptog binnevaar. Of eintlik binnedrentel, want hier is kennelik geen haas nie.
Jessnitz laat lei hom deur die vrae van die groeplede. Sy vertellings spring tussen die belang van die blinkblaar-wag-’n-bietjie in die Afrika-kultuur tot die waslagie om duinrietwortels wat sandkorrels ter beskerming daaraan laat vaskleef.
Tussen die windriffels op die duine merk iemand ’n hopie sand op. Dis die werk van ’n steenbok, verduidelik Jessnitz.
Die dier skraap met sy voorhoewe die grond voordat hy urineer of mis en krap dit daarna met dieselfde pote toe deur agtertoe toe te krap.
Steenbokke, duikers, rooihartebeeste, springbokke en gemsbokke is volop in die reservaat, en koedoes kom wys gereeld gesig. Hier is ook meer as 170 voëlspesies.
Maar dis nie net voëls wat hier in oorvloed is nie.
Hier is ook meer as 90 skoenlapperspesies – volgens Witsand se ekogids meer as wat in die hele Brittanje voorkom.
Veral in die laatsomer, ná die reëns, is hulle in hul duisende in spierwit wolke te sien.
Ons gids wys na iets wat vir die leek na net nóg ’n bokspoor lyk. Inderwaarheid is dit die werk van die klein bokspoor-spinnekop, wat tussen twee en vier tonneltjies grawe wat met ’n kamertjie onder die sand verbind is.
Bo-op elke tonnel is ’n sanddeksel. ’n Webdraad is daarmee verbind sodat die spinnekop die vibrasies kan voel wanneer ’n prooi op die dekseltjie trap en hy blitsig van onder af kan toeslaan.
Dié spesifieke spinnekop laat hom nie met ’n sprietjie boontoe lok nie. ’n Ander een wys darem later vlugtig pote en lyf.
Dit verskaf amper net soveel plesier aan die kinders in die groep as toe Jessnitz demonstreer hoe vlak onder die oppervlak die water in Witsand is.
Vroeër het hy vertel dat die boorgate hier net tussen 1 m en 3 m diep is.

Ook dat studies getoon het die water is suiwerder as enige Suid-Afrikaans gebottelde water. Maar daar is darem geen planne om die gebottelde pad te loop nie, verseker hy.
Dit word net vir gebruik op Witsand en sewe omliggende plase aangewend.
Die water begin borrel nog voordat hy ’n meter diep gegrawe het.
Die kinders volg gretig sy voorbeeld en gaan lê plat op hul maag om uit hul hande daarvan te drink.
Wat is al wat ’n mens in die natuur agterlaat? kry Jessnitz ’n vinnige lessie in.
“Net jou voetspore,” antwoord ’n seuntjie dadelik, waarop hy bak-arm saam met die gids sand begin nader skraap om die gat toe te gooi.
- Beeld