Queensland weer reg vir toeriste ná Yasi
2011-02-07 09:37
Cairns – Toeroperateurs in Cairns en langs die Groot Koraalrif het bekendgemaak dat hulle oop is vir besigheid ná die impak van Sikloon Yasi wat verlede week deur die dorp geruk het.
Yasi het groot skade oor die staat van Queensland aangerig, maar vroegtydige waarskuwings en voorsorgmaatreëls het verseker dat mense betyds na veiligheid gebring is.
Toerisme-amptenare het toeriste gerusgestel dat hul vakansies in die omgewing nie geraak sal word nie.
Die Cairns Internasionele Lughawe is ook ten volle operasioneel.
Akkommodasie in Cairns, Palm Cove, Port Douglas, Cairns Tablelands, Daintree en Cape Tribulation is oop en meeste toerisme-bestemmings funksioneer weer soos normaal, het die amptenaar bygevoeg.
Bote na die Groot Koraalrif van Cairns en Port Douglas loop ook weer soos normaal.
Alle plaaslike paaie is oop en vervoerstelsels is ook weer op volle dreef.
“Ons sal voortgaan om julle op hoogte te hou van ontwikkelinge, maar ons wil dit duidelik maak dat julle kan aanhou om vakansies na Cairns en die Groot Koraalrif te bespreek,” het Rob Giason, die hoof van toerisme in die omgewing gesê.
Lees meer hier