Queen Mary 2 deur kragonderbrekings getref
2012-02-09 19:54
Melbourne – Die Queen Mary II, die grootste en luuksste passasierskip ter wêreld, is deur twee kragonderbrekings getref op pad na Australië, het die Herald Sun berig.
Die kolossale 150 000-ton skip het vanaf Port Louis, Mauritius na Fremantle in Wes-Australië gereis toe dit Saterdag en Dinsdag deur kragonderbrekings getref is.
'n Passasier, wat anoniem wil bly, het gesê hy was vir ongeveer 10 minute in 'n hysbak vasgekeer.
Volgens hom het die kragonderbreking op die skip vir ongeveer 25 minute geduur met die ligte wat vir 'n kort wyle afgeslaan en die skip se enjin wat ook gestop het.
Die tweede kragonderbreking het Dinsdagoggend om 02:00 gebeur.
Die skip het vir 10 minute doodstil in die water gestaan met die ligte en televisie wat afgegaan het.
Volgens David Jones, woordvoerder van Carnival, het die skip se kaptein gesê die kragonderbrekings was deel van roetine-instandhouding.
"Die veiligheid van die passasiers was nooit in gedrang nie."
– Volg Nuus24 op Twitter.