Pak die tent in as jy alleen gaan stap of fietsry
2011-02-03 09:21
Toe Mark Johnston skielik alleen die berge moes invaar, was 'n eenmantent heel boaan sy inkopielys.
Hoekom het jy diè tent gekoop?
Ek en 'n vriend het beplan om in die Kanadese Rockies te gaan stap. Toe hy onverwags kop uittrek, het ek besluit om dit alleen aan te durf.
Ek het 'n tent nodig gehad wat ek op my eie kon dra en het by Kanada se ekwivalent van Cape Union Mart 'n Hubba gekoop.
Waarvan is dit gemaak?
Die boseil is van Ripstop-nylon, die binneste deel van muskietnet en die pale van aluminium.
Is jy tevrede met die kopie?
Hierdie tent is eersteklas, van die gehalte van die materiaal tot die slim paalraamwerk. Dit vou boonop so klein soos 'n termosfles op en pas in jou rugsak.
Dit het 'n "drieseisoen"-gradering, wat beteken dit is geskik vir goor maar nie gure weer nie.
Die tent het hom heel goed van sy taak gekwyt in reën, hael en selfs ligte sneeu.
Enige klagtes?
Dis effens knap. As ek my stewels buite los en my rugsak as kussing gebruik, pas ek net-net in.
Toe dit aanmekaar gereën het, was dit klam binne-in as die binneste deel aan die bo-seil geraak het.
Die oplossing is om seker te maak jy, en jou toerusting, druk nie hard teen die kant nie.
Hoe lank vat dit om op te slaan?
Op die meeste vyf minute.
Pas dit mooi in die bêresak?
Ja, binne vyf minute is die tentjie weer knus in sy drasak.
Gewig: 1,5kg
Grootte: 2,2 by 0,7 by 1,0m
Prys: sowat R3 900 by spesialiswinkels soos Drifters, Mountain Mail Order en Mammoth Outdoor.
Kontak: Outdoor Ventures by 021 683 3638, of www.outward.co.za
Weg sê: Pak die tent in as jy alleen gaan stap of fietsry... of as manlief net 'n bietjie te hard snork in die gesinstent.
Klik hier vir nóg kamptoerusting
- Weg!