Ontsnapte hiënas weer veilig tuis
2011-11-02 13:37
Johannesburg – Twee hiënas wat vroeg Woensdagoggend uit 'n Leeupark noord-wes van Johannesburg ontsnap het, is ‘n halfuur later weer terug tuis, het die park se bestuurder gesê.
“Die krag van die park het vroeg Maandagoggend afgegaan en die hiënas – wat deur heinings kou – het daarin geslaag om uit te kom,” het Earl Smith gesê.
Hy het gesê ‘n soortgelyke voorval het tydens ‘n lang kragonderbreking in April ook gebeur toe hiënas deur die heinings, wat normaalweg geëlektrifiseer is, gekou het.
“Die hiënas probeer altyd uitkom wanneer daar ‘n kragonderbreking is. Die leeus probeer dit nie doen nie.”
Smith het die hiënas as “skaam” beskryf en gesê dat hulle normaalweg van mense af weghardloop.
Hy het ook gesê dat voorsorgmaatreëls in plek gestel is om sulke ontsnappings in die toekoms te verhoed.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA