Oliebevlekte strande in NS word toerisme-kopseer
2011-10-14 12:49
Nieu-Seeland - Toeroperateurs in Nieu-Seeland is bekommerd dat strande met oliebevlekte sand en seelewe skade berokken het aan die “skoon, groen” beeld wat die land gebruik om homself aan die wêreld te bemark.
Dit volg nadat van die Noord-Eiland se strande die afgelope week met olie besoedel is wat van ‘n groot houerskip lek wat op ‘n rif in die see gestrand geraak het.
Swart gemors wat sleg ruik en honderde dooie voëls het op die strand uitgespoel.
Dié maritieme ramp, die grootste wat die land nog ooit getref het, kom ook terwyl die wêreld se oë op Nieu-Seeland gerig is met die Wêreldbeker-rugbytoernooi.
Die toerismebedryf verkoop die land al vir meer as ‘n dekade as “100% suiwer Nieu-Seeland” in ‘n veldtog wat baie staatmaak op die land se natuurlike skoonheid en skoon omgewing.
“Daar is nooit ‘n goeie tyd nie, maar hierdie is verseker nie die beste [tyd] nie,” het die burgemeester van Tauranga, Stuart Crosby, gesê. Dié stad is die baai se grootste toeristebestemming.
“Dit is nou die beste tyd vir besoekers... daarby is dit die Wêreldbeker-rugbytoernooi en hier is baie media hier. Nee, dit is nie goed nie.
“Maar hierdie goed gebeur en ons moet dit hanteer en ons moet ons strande, hawens en riviermonde skoon kry.”
Hy het gesê privaat bootmaatskappye, verskaffers van akkommodasie en ander wat in die bedryf ‘n rol speel sal ‘n afname in besprekings ervaar, met besoekers wat die omgewing in die korttermyn vermy ná die olielek.
Die streek lok ook meer as 80 toerskepe ‘n jaar en, alhoewel niemand tot dusver hul roetes aangepas het nie, dit moontlik ook tot ‘n verlies in toerisme-inkomste kan lei.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP