OR Tambo beste lughawe in Afrika
2011-04-04 09:20
Johannesburg – Die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg is as die beste lughawe in Afrika benoem tydens ‘n internasionale toekenningseremonie, het die lughawensmaatskappy (Acsa) Sondag gesê.
“Hierdie toekenning is nog ‘n belangrike mylpaal vir die lughawe, slegs maande nadat Suid-Afrika die Fifa 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi aangebied het,” het Christopher Hlekane, die lughawe se algemene bestuurder, gesê.
“Die toernooi het gewys dat OR Tambo Internasionale Lughawe nie net Suid-Afrika se vlagskip lughawe is nie, maar ook die poort vir enige reuse-gebeurtenis in Afrika,” het hy gesê.
Die wêreld-lughawe toekennings vir 2010 / 2011 is Woensdag in Denemarke gehou en is gebaseer op 11,38 miljoen opnames wat deur 11 verskillende nasionaliteite van lug-passasiers voltooi is.
Passasiers is oor verskillende dienste en produkte gevra, soos inboek, aankoms en vlug-oordragte.
Die lughawe was ook een van die top drie lughawens wat wêreldwyd die beste verbeter is.
‘n Multi-miljard rand projek om die lughawe se infrastruktuur te verbeter is ‘n paar jaar gelede geloods en die nuwe terminaal-deure het in April 2009 geopen.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA