Lughawe op Teemsrivier dalk antwoord vir Heathrow-hoofpyn
2011-10-13 13:48
Londen – Heathrow-lughawe is besig om stadig maar seker sy maksimum kapasiteit te bereik, wat lei tot vrese dat een van die wêreld se grootste en belangrikste lughawens besig is om agteruit te gaan.
Dit het ook gelei tot sprake van die moontlikheid dat ‘n nuwe lughawe in die Teemsrivier gebou gaan word.
Meer as 180 000 passasiers beweeg daagliks deur Heathrow, wat slegs twee aanloopbane het. Dit is die wêreld se besigste lughawe in terme van internasionale passasiersverkeer en is al vir jare die onderwerp van ‘n vurige debat in Brittanje.
Nou het die onderwerp weer na die voorgrond gekom ná ‘n verslag wat uitgereik is deur die Spaanse operateur BAA, wat ses Britse lughawens, insluitende Heathrow, bestuur.
Heathrow funksioneer reeds op 98% van sy kapasiteit, met 450 000 vlugte wat verlede jaar daar opgestyg en geland het, het die verslag deur Frontier Economics gelui.
“As Heathrow se kapasiteit steeds beperk word sal hy waarskynlik sy posisie as Europa se besigste lughawe verloor teen 2021.
“Dit sal na derde val, ná Frankfurt en Parys se Charles de Gaulle, met Amsterdam en Schiphol kort op sy hakke,” het die verslag gesê.
Dit is ‘n terugslag vir die regering, wat ‘n plan vir die bou van ‘n derde aanloopbaan by Heathrow laat staan het in 'n poging om besoedeling en lawaai in die omliggende omgewing te verminder.
Altesaam 1 200 vliegtuie vlieg reeds daagliks oor die omgewing.
Brittanje raak agter terwyl Asië groei
Heathrow het gevolglik reeds minder vliegtuie wat daagliks van daar opstyg na lande in opkomende markte as in Parys en Frankfurt en sal nie kan byhou by toekomstige groei nie, veral in terme van vlugte na Asië.
“Ons skat dat ondernemings in Brittanje nou £1,2 miljard (R14,7 miljard) ‘n jaar kan verloor en hierdie handelsgaping sal tot ten minste £1,6 miljard (R20 miljard) vergroot teen 2021,” het die verslag gesê.
Omgewingsgesindes verwerp hierdie argumente en plaas klem op die feit dat Londen reeds vyf lughawens het en die regering het geweier dat enige van hulle ‘n bykomende aanloopbaan bou.
“Die regering is reg om druk op lugrederye en lughawens te plaas om alles in hulle vermoë te doen om Co2-uitlatings te verminder,” het Jo Valentine, ‘n parlementslid wat so ‘n omgewingsgroep lei, gesê.
Boris-eiland
Londen se burgemeester, Boris Johnson, het drie jaar gelede met ‘n plan vorendag gekom om hierdie probleme die hoof te bied.
Heathrow is in die weste van Londen en word ingeperk deur behuising, so hoekom nie ‘n nuwe lughawe bou met vier aanloopbane op ‘n mensgemaakte eiland in die Teemsrivier aan die oostelike deel van die stad nie?, het hy voorgestel.
Nietemin het die Boris-eiland-plan, soos wat dit in Brittanje bekendstaan, baie kritiek ontlok van omgewingsgesindes en lugrederye wat gekant is teen die sluiting van Heathrow.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP