Nóg probleme vir Qantas
2011-10-17 10:46
Kaapstad – ‘n Qantas-vlug wat na Sydney onderweg was moes terugkeer na Bangkok nadat ‘n harde slag aan boord gehoor is, het die lugredery Maandag gesê.
Dit volg nadat vyf vliegtuie in ‘n aparte voorval nie kon vlieg nie as gevolg van ‘n arbeidsdispuut.
Die “Flying Kangaroo” is ook in ernstige gesprekke met vlieëniers, ingenieurs en bagasie-hanteerders oor lone en voorwaardes.
Qantas het gesê QF002 van Bangkok na Sydney moes Sondag een uur nadat dit opgestyg het terugkeer na Bangkok nadat ‘n harde lawaai gehoor kon word en daar glo erge vibrasies was.
“’n Harde lawaai kon op die vliegtuig gehoor word,” het ‘n woordvoerder vir Qantas gesê en bygevoeg dat ingenieurs die oorsaak geïdentifiseer het as een van die vliegtuig se Rolls-Royce RB211-enjins.
Die Boeing 747-400 het sonder enige voorval veilig terug in Bangkok geland.
“Daar was wit vonke wat uit die enjin gespat het en toe het hulle vir ons gesê wat aangaan, dat die enjin afgeskakel is en dat ons terugkeer na Bangkok,” het een passasier aan Macquarie Radio gesê.
Dit volg nadat Qantas vyf vliegtuie vir ‘n maand nie laat vlieg het nie en 400 vlugte en 60 000 sitplekke van sy skedule moes kanselleer ná aanhoudende stakings deur sy ingenieurs.
Qantas sê die stakings raak ook toekomstige besprekings, met vakbonde wat vasbeslote is om te onderhandel vir verhogings en werksekuriteit.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP