Nazi-kenteken op vliegtuigie pla toeris
2011-10-07 07:06
George – ’n Nazi-kenteken op ’n speelgoedvliegtuig by die George-lughawe moes Donderdagmiddag inderhaas toegeplak word nadat ’n oorsese besoeker daaroor gekla het.
Die simbool op die vliegtuig se romp en stertvin beeld die ysterkruis uit wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi-leier Adolf Hitler as medaljes aan Duitse soldate vir hul dapperheid gegee is.
Die speelgoedvliegtuig, wat in die George-lughawe se vertreksaal staan, is ’n replika van die Duitse vegvliegtuig die Fokker Dr-1-drievlerkvliegtuig, wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog die befaamde Rooi Baron, ’n Duitse vegvlieënier, aan die stuur gehad het.
“Ons het twee dae gelede ’n klag van ’n Noorse passasier oor die teken ontvang,” het me. Brenda Moses, lughawebestuurder, gister by navraag gesê.
Volgens Moses wou die besoeker slegs aandag vestig op die moontlikheid dat ander oorsese passasiers aanstoot kan neem.
“Stappe is gedoen en ’n plaaslike verteenwoordiger van die verskaffer gaan vanmiddag plakkers oor die kenteken plak.
“Ek was geensins bewus van die Nazi-simboliek nie. Vir my was dit net ’n oulike replika van ’n ou Duitse vliegtuig.”
Besoekers aan die George-lughawe het gister laat blyk dat dié speelding hulle glad nie omkrap nie.
“Mense neem graag foto’s van hul kinders by die vliegtuigie. As hulle daarmee ’n probleem het, moet hulle maar die geweertjie ook afhaal,” het Jackie Biljon gesê.
Sy bedryf ’n onderneming wat tasse in plastiek toedraai reg langs die speelvliegtuig.
Gert Bruwer en sy vrou, Ansie, van Groot-Brakrivier het ook gereken mense kla onnodig.
Myron Rabinowitz, voorsitter van die Joodse gemeente op George, het verbaas gereageer toe sy mening gevra is.
“Ek ervaar nie die ysterkruis as ’n Nazi-simbool nie. Baie lande gebruik dié teken op hul nasionale vlae.
“Die swastika is natuurlik ’n ander saak.”
Craig Meacham van Kiddierides in Kaapstad wat dié speelgoedvliegtuie versprei, het gesê die vervaardigers probeer om dit so veel as moontlik na die oorspronklike te laat lyk.
“Ons vra om verskoning, want die bedoeling was nie om mense aanstoot te gee nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger