Nat toestande tref Namibiese toerisme nadelig
2011-03-16 09:50
Namibië - Sommige verblyfsoorde in die noorde van Namibië was genoop om hul deure te sluit met watervlakke wat bly styg en meer reën wat deur die weerkantoor voorspel word, het die Republikein Online berig.
Verblyfsoorde het geen kamers wat verhuur kan word nie en Kunene River Lodge moes ook sy deure sluit.
Volgens die nuutste verslag van die departement van hidrologiese dienste in die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou, bly die invloei in die Cuvelai-oshanas in die Ohangwena- en Oshanastreek hoog.
Die vloed in die Okavangorivier is besig om sy toppunt by Rundu te bereik. Die beste skatting is dat die rivier 8,5 m diep teen Woensdag sal vloei.
Die departement het gerapporteer dat die vloedwater by die brug van die Kuisebrivier sy hoogtepunt op 1,29 m bereik het en dit het tot 1,12 m gedaal.
By Katima Mulilo het die rivier Maandag 6,36 m diep gevloei en die watervlakke in vergelyking met 2009 en 2010 dieselfde tyd, is vanjaar laer.
Lees meer by die Republikein Online