NS: Nuwe staproete strek oor lengte van die land
2011-11-24 15:31
Kaapstad – Geesdriftige stappers kan maar hul stapskoene uitpak want hierdie Desember open Nieu-Seeland ‘n nuwe staproete wat oor die lengte van die land strek.
Die nuwe roete, wat Te Araroa genoem word en “lang pad” in die Maori -taal beteken, sal 3 000 km lank wees en van Cape Reinga in die noorde tot Bluff in die suide strek.
Die openingseremonie sal op 3 Desember 2011 by Shorland Park, Island Bay, waar die roete op die Noord-eiland op die strand eindig, gehou word. Dit word as die middelpunt van die roete beskou.
Soortgelyke seremonies sal ook aan beide kante van die roete gehou word.
Die pad sal oor die hele lengte van die Noord- en Suid-eiland strek en sal uit 300 roetes bestaan wat almal verskillende lengtes sal wees.
Sommige roetes sal slegs ure neem om te stap, terwyl ander ‘n paar dae sal neem.
Die roete is daarop gemik om Nieu-Seeland se asemrowende natuurskoon en diversiteit ten toon te stel en loop tussen sneeupieke, digte woude, plase en stede.
– Lees meer by Wanderlust
– Volg Nuus24 op Twitter