NS: Besprekings vir ballonritte neem af ná tragedie
2012-02-09 12:55
Melbourne – Besprekings vir ballonritte in Australië het afgeneem ná die tragedie in Nieu-Seeland waarin elf mense verlede maand gesterf het, het die Herald Sun berig.
Volgens die webwerf Godo.com.au, waardeur aktiwiteite bespreek word, het besprekings met 47% in Januarie afgeneem in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar.
Slegte weerstoestande en die sterk dollar word ook geblameer vir die afname.
Volgens Renee Welsh, algemene bestuurder van die webwerf, het die tragedie mense se siening oor ballonritte beïnvloed.
"Mense vra nou meer vrae oor die veiligheidsmaatreëls," het sy gesê.
Elf mense het verlede maand gesterf nadat die ballon waarin hulle gereis het aan die brand geslaan het. Die ballon het daarna teen kraglyne in die Wellington-streek van Nieu-Seeland gebots.
Die ongeluk word steeds ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter.