MyCiTi-busdiens se Weskusroete verder uitgebrei
2011-05-21 11:40
Kaapstad. – Die MyCiTi-busdiens se Weskusroete word die naweek uitgebrei na bushaltes in Park-lands, Table View, Blouberg en Grootbaai.
Met die nuwe aansluitingsroetes wat ook nou in plek is, is die eerste drie stappe van die nuwe Weskusroete voltooi.
Die roete sluit die hoofroete op die R27 in, wat pendelaars tussen die woonbuurte aan die Weskus en die middestad vervoer. Die roete is ook met aansluitingsroetes in die middestad tot by Tuine en die V&A Waterfront uitgebrei.
Die aansluitingsroetes aan die Table View-eindpunt van die MyCiTi-busdiens sal dié naweek finaal getoets word.
Daar is 120 bushaltes in Park-lands, Table View, Bloubergstrand en Grootbaai. Die haltes is tussen 300 m en 400 m van mekaar af, sodat inwoners nie te ver hoef te stap nie.
Meer inligting oor die MyCiTi-busdiens is beskikbaar by www.capetown.gov.za/myciti.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger