MyCiTi-busdiens groot hupstoot vir Kaapstad
2011-09-08 08:56
Kaapstad het sy MyCiTi-busdiens die afgelope week uitgebrei deur 200 ekstra busse by te voeg, ‘n besluit wat volgens toeriste-beamptes ‘n positiewe uitwerking sal hê en meer saketoerisme na die stad sal lok.
Met die meeste hotelle en die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) wat almal maklik toeganklik is deur die vinnig groeiende MyCiTi-diens, meen amptenare dat dit Kaapstad meer toeriste-vriendelik en meer kompeterend maak as ‘n bestemming om konferensies aan te bied.
Om dit te bewys het Alan Winde, Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, saam met sowat 30 vrywilligers in die bedryf verlede week op die busse geklim om self vas te stel hoe gerieflik die diens is.
Winde het self ses minute geneem om van ‘n MyCiTi-busstop by Government-laan by die Tuine na die Mount Nelson Hotel te stap.
“Dit is ‘n baie vinnige manier om in die stad rond te beweeg,” het hy na die tyd opgemerk.
“Dit laat pendelaars ook toe om in die verbygaan met handelaars en winkeleienaars in die stad sake te doen en die ekonomie te stimuleer.”
– Tourism Update
– Volg Nuus24 op Twitter