Moembaai se perdekarre dalk iets van die verlede
2011-10-07 12:18
Moembaai – Versierde perdekarre is ‘n gewilde gesig in die Indiese stad Moembaai, het in verskeie Bollywoord-films verskyn en het in eie reg ‘n toeriste-aantreklikheid geword.
Tog kan hul dae getel wees as gevolg van wydverspreide aantygings dat die perde sleg behandel word, ‘n hofsaak wat hoop dat dit verban word en ‘n veldtog wat die ondersteuning van bekendes gelok het.
Verteenwoordigers van die People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) het die afgelope week aan amptenare in die stad geskryf om te vra dat wetgewers “’n einde bring aan die wrede perdekar-ritte in Moembaai”.
“Oor die algemeen word die perde nie beskerm teen die son en reën nie, hulle word in vuil stalle gehou, hulle word swak gehalte kos (indien enige) gevoer en word min van water voorsien,” het die groep in ‘n ope brief gesê.
“Baie ly aan onbehandelde beserings, dehidrasie en swakheid, maar die meeste van hulle sal dit nooit tot by ‘n veearts maak nie,” het Peta gesê en het bygevoeg dat die toename in verkeer die perde, sowel as bestuurders, fietse en voetgangers, ‘n hoë risiko laat loop.
Dié perdekarre was eens op ‘n tyd gebruik om die hoë klas deur die voormalige Bombaai te vervoer.
Vandag is dit ‘n prettige wyse van vervoer vir toeriste.
Nietemin is hul dae getel, met amptenare wat sê daar is vandag slegs 130 Victoria-perde oor, van 800 in 1973 toe die nuwe lisensies toegestaan is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP