Minder toeriste besoek Japan
2012-01-20 11:15
Tokio – Die getal oorsese toeriste wat Japan besoek het, het met 27,8%, in vergelyking met die vorige jaar, tot 6,2 miljoen in 2011 gedaal.
Dít is die grootste afname ooit in besoekersgetalle te midde van die aardbewing op 11 Maart, die tsoenami en daaropvolgende kernramp, het 'n bedryfsgroep Vrydag gesê.
Japan se nasionale toeriste-organisasie het gesê die jen se waardering teenoor groot geldeenhede was ook verantwoordelik vir die afname omdat 'n sterker jen reise na dié land duurder maak.
Die getal toeriste van Suid-Korea, die grootste mark, het met 32% tot 1,66 miljoen afgeneem. Dié toeriste maak 26,7% van die totaal uit, terwyl besoekers van China, die tweede grootste mark, met 26,1% na 1,04 miljoen gedaal het. Toeriste van China maak 16,8% van die totaal uit.
– Volg Nuus24 op Twitter