Slim herontwerp maak vliegtuie gemakliker
2011-06-22 14:51
Le Bourget, Frankryk – In die lang geskiedenis van swak industriële ontwerp is die knoppie op ‘n vliegtuig wat die vlugkelner se aandag moet trek sekerlik in die eerste plek.
Dié knoppie, wat gewoonlik langs die knoppie vir die leesliggie is, het al telkemale daartoe gelei dat vlugkelners ‘n passasier te hulp snel, net om uit te vind hulle wou eintlik net die leesliggie aanskakel.
Dit sal egter nie vir lank meer ‘n probleem wees nie.
Die nuwe interne ontwerp vir Boeing se 737-passasiersvliegtuig sal toegerus word met ‘n vlugkelner-knoppie wat nie net ver van die leesliggie se knoppie sit nie, maar wat ook anders sal lyk.
“Ek voel ons het met ‘n baie goeie verbetering vorendag gekom,” het Beverly Wyse, Boeing se bestuurder vir die 737-program by die lugskou in Parys, gesê.
Ander nuwe ontwerpe wat vir vliegtuie soos die 787 Dreamliner en die 747-8 beplan word, sluit in LED-ligte en nuwe oorhoofse bergplekke wat genoeg ruimte laat sodat 'n langer passasier regop kan staan by sy sitplek.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters