Meisie met Down-sindroom vliegkaartjie geweier
2011-06-17 15:02
Kaapstad – ‘n Twaalfjarige meisie is ‘n vliegkaartjie op ‘n British Airways-vlug geweier omdat sy Down se sindroom het, het die Mail Online berig.
Alice Saunders se ma was geskok toe daar aan haar gesê is dat haar dogter nie sonder toesig kon vlieg nie, aangesien dit teen die maatskappy se beleid is om passasiers met Down se sindroom alleen te laat vlieg.
Heather Saunders, 49, het die lugredery gekontak om vir Alice ‘n vlug van Gatwick na Glasgow te bespreek.
“Ek het verduidelik dat ek wil hê sy moet sonder toesig vlieg, dat sy 12 is en Down se sindroom het en dat sy baie onafhanklik is,” het Saunders gesê.
Die werknemer het geantwoord: “Ons beleid sê ons neem nie kinders met Down se sindroom aan boord nie.”
Op ‘n vraag oor hoekom nie het die persoon by BA se kliëntediens geantwoord: “Omdat ons al in die verlede probleme gehad het.”
British Airways het om verskoning gevra vir die agent se optrede. Dit is nie die lugredery se beleid om minderjariges met Down se sindroom vliegkaartjies te weier nie, het ‘n woordvoerder gesê.
“Ons sal baie bly wees om mevrou Saunders se dogter sonder toesig op ‘n vlug te laat,” het die lugredery in ‘n verklaring gesê.
“Ons het twee retoerkaartjies aan mevrou Saunders gebied as vergoeding vir die ongemak wat veroorsaak is.”
Lees meer by die Mail Online